Julle stories

Aftelkalender se begin - Nina Müller van Velden

Met die aankondiging van die landwye grendeltyd het Nina Müller van Velden grappenderwys op sosiale media genoem dat sy vir haar ’n aftelkalender wil maak om die (aanvanklike) 21 dae van inperking dag ná dag af te merk, amper soos die Adventkalenders wat in Kerstyd gebruik word.

 

Nico Simpson, Uitvoerende Hoof van Bybel-Media, het Nina die volgende dag gekontak en hulle het gedagtes gewissel oor die moontlikheid van so ’n aftelkalender. Die hoofdoel van die kalender sou wees om gelowiges in hulle geloof te ondersteun terwyl almal by die huis moes bly.

 

Nina se rol in die span wat die Aftelkalender op die been gebring het, was om die voorbiddingstasie se simbool en gebedsvoorstelle te ontwerp. Na aanleiding van die terugvoering wat die span oor die kalender ontvang het, vertel Nina, het sy besef dat hierdie projek mense help om hulle geloof prakties by die huis uit te leef en God se teenwoordigheid in dié onseker tyd te ervaar. Sy is opgewonde dat die skuif na “geloof aanlyn” mense nooi om met nuwe oë hulle gebedsoefening uit te leef, en dat “kerk” eintlik op enige plek kan plaasvind.

 

Nina het in die noordelike voorstede van Kaapstad grootgeword. Ná skool het sy jeugwerk aan die Hugenote Kollege in Wellington gaan studeer, en daarna teologie by die Universiteit Stellenbosch. Sy en haar man, Wouter, was klasmaats en het in 2011 getrou. Nina het in 2018 haar PhD in die Nuwe Testament voltooi en is tans besig met postdoktorale navorsing in Bybelwetenskappe. Nina se tuisgemeente is NG Kerk Parke in die noordelike voorstede.

Nina en haar man, Wouter.

Nina Müller van Velden wat aan die Aftelkalender werk.