Ontmoet die span: LUANÉ MCLACHLAN

Ontmoet Luané McLachlan

Luané McLachlan is ’n kunstenaar met vele talente. Haar vaardighede word ingespan om die Aftelkalender se visuele beelde te illustreer en nadinkvrae daaroor te skryf. Sy help ook met die vertaling van die teks in Engels. 

MEER OOR LUANÉ

Luané is in Port Elizabeth gebore en het haar kinderjare in die klein dorpie Colchester net buite Port Elizabeth deurgebring. In 2017 is sy gelegitimeer en na die NG Kerk Proteahoogte beroep. Luané vertel dat sy die meeste van haar tyd aan skets bestee. Sy beoefen digitale kuns en skilder af en toe, alhoewel sy die digitale medium verkies. Die nuutste stokperdjie wat sy in die nasionale inperkingstydperk weens Covid-19 aangepak het, is borduurwerk. Sy hoop om gou nog lap in die hande te kry! 

Kuns speel ’n baie groot rol in Luané se geloofslewe. Sy vertel dat om te skets, te skilder en te teken haar help om sin van haar verhouding met God te maak en dit uit te beeld. 

KIESKERK SE IMPAK

Luané meen KiesKerk beteken “gemeenskap” en help gelowiges om die werklike betekenis en waarde van die kerk te ontdek. Sy glo kerk gaan nie bloot oor die weeklikse samekoms van mense nie, maar oor mense wat oor Suid-Afrika heen saam vir ons land bid en hulle medemens ondersteun. Dit is om steeds God se hande en voete te wees, al is ons elkeen in ons eie huis. Luané sê gelowiges is nou God se WhatsApp-boodskappe, Facebook-blaaie en Skype-oproepe.

Dit is vir Luané ’n voorreg om deel van die Aftelkalender te wees. Sy geniet dit baie en is dankbaar dat haar gawes deur ’n groter gehoor geniet kan word. Sy hoop om aan ander kunstenaars te wys dat kuns gebruik kan word om gesprekke met God te voer of God deur jou te laat praat.

Luané en haar gesin

Luané se kunswerk

Luané se kunswerk