Schalk Naudé is ’n predikant wat sy loopbaan in die Gereformeerde Kerk Goedgegund in Swaziland begin het. Daarna het hy Swaziland se hitte vir Hawaii se tropiese klimaat verruil toe hy vir twee jaar aan die University of the Nations studeer het. Schalk het toe teruggekeer na Suid-Afrika en gedien in die gemeente Pretoria-Noord en Florauna, wat later saamgesmelt het as een makrogemeente. Hy was in totaal 21 jaar lank daar predikant. In 2019 is Schalk se visum goedgekeur en hy het na die dorpie Fort Frances in Ontario, Kanada, verhuis. Hier dien hy tans by Knox United Church.
Hy vertel dat Fort Frances slegs 7 000 inwoners het en op die grens tussen Minnesota in die VSA en Kanada geleë is. Die dorpie staan bekend as die “Ice box” en Schalk is bly hy het die ysige winter oorleef.
Schalk het KiesKerk.com op Facebook ontdek en was beïndruk met die aanlyn eredienste en die handige Aftelkalender. Hy kon die Aftelkalender se inhoud gebruik om steeds vir sy gemeente geestelike inhoud te bied tydens hulle inperkingstyd. Schalk is dankbaar vir die span vrywilligers wat die Aftelkalender saamstel, geniet veral die mooi illustrasies en is bly die Aftelkalender is verleng nadat die eerste inperkingstyperk in Suid-Afrika verby was. Die terugvoering van die gemeente is baie positief en hulle geniet die daaglikse inhoud saam met die Suid-Afrikaners.
Schalk by sy bevestiging op 26 Januarie 2020
Rev Frances Flook (links) van Emo, Ontario, wat Schalk se bevestiging op 26 Januarie 2020 waargeneem het, Randy DeGagné (voorsitter van die kerkraad) en Schalk.