Dit kan nogal oorweldigend wees om met die opstel van jou testament te begin, maar dit hoef nie ’n ingewikkelde proses te wees nie.
Die Regsvereniging van Suid-Afrika bied jaarliks Nasionale Testamente-week om die publiek die geleentheid te gee om ’n basiese testament gratis te laat opstel met die hulp van prokureurs. Gryp hierdie geleentheid aan en verseker só dat jou nalatenskap volgens jou wense bestuur sal word.
Jou testament bevat jou laaste wense en geskrifte aan jou erfgename. Dit verskaf ook ’n uiteensetting van hoe jy wil hê die eksekuteur jou bedoel moet bestuur.
Daar is veral ses belangrike dinge wat jy by jou testament moet insluit:
Dit is die persoon wat aangewys word om ’n boedel te bestuur, enige skuld te vereffen en die oorblywende bates volgens die voorskrifte in die testament te verdeel. Jy het die reg om self ’n eksekuteur te kies.
Dit is belangrik om ’n betroubare persoon as eksekuteur te benoem. Jy moet vertrou dat die persoon jou wense sal nakom en die boedel doeltreffend sal administreer. Daarom sal dit voordelig wees as die persoon reeds ervaring of kennis van die proses het. Die eksekuteur hoef nie noodwendig ’n erfgenaam te wees nie.
Dit is wys om ook ’n alternatiewe eksekuteur te benoem ingeval die oorspronklike eksekuteur nie beskikbaar is om die boedel te beredder nie. As geen eksekuteur benoem is nie, sal ’n kandidaat genomineer en aan die meester van die hooggeregshof voorgelê word vir goedkeuring. Dit is egter ’n tydrowende proses wat onnodige spanning of onsekerheid kan veroorsaak.
Jou testament kan ’n reuseverskil maak vir dié wat agterbly, veral as hulle finansieel van jou afhanklik is. As jy nie die nodige voorsorg in jou testament tref nie, sal jou minderjarige kinders en afhanklikes aan die genade van familielede, vriende of die staat uitgelewer wees.
Betrek familielede en vriende by jou besluite en benoem finansieel verantwoordelike en betroubare voogde wat jy vertrou om na jou minderjarige kinders en afhanklikes om te sien. Ongeag of jy getroud, ongetroud of ’n enkelouer is, daar moet duidelikheid wees oor wie as voog(de) moet optree.
Maak ook seker dat jou erflating aan minderjarige kinders en afhanklikes duidelik in jou testament uiteengesit word. Anders sal hulle erfporsie deur die Voogdyfonds bestuur word totdat hulle mondig is. Dit kan onder meer verhoed dat ’n trust geskep kan word om hulle bates te beskerm.
’n Eerste stap sou wees om ’n opname te maak van al jou bates en laste. Dit sluit dinge in soos eiendomme, ’n onderneming, erfstukke, items met sentimentele waarde en geld (kontant, spaargeld, aandele, versekeringspolisse).
Bybel-Media het ’n baie nuttige Lewenslêer wat jou sal help om van al hierdie dinge rekord te hou en jou papierwerk agtermekaar te kry.
Klik hier om ons Lewenslêer te bestel of die aanlyn weergawe af te laai.
Dis nie altyd maklik om te besluit aan wie jy jou nalatenskap wil bemaak nie. Dit is egter jou reg om jou besittings na te laat aan wie jy wil. Jou testament gee vir jou die geleentheid om jou voorkeure en wense uiteen te sit en jou besluite aan jou erfgename te verduidelik.
Hou in gedagte dat jou huwelikstaat jou erflating beïnvloed. As jy binne gemeenskap van goedere getroud is, word die boedel wat jy met jou huweliksmaat deel gelykop verdeel ná jou dood. Jou testament moet duidelik uiteensit hoe jou nalatenskap tussen jou erfgename verdeel moet word nadat jou huweliksmaat sy of haar helfte daarvan ontvang het. As jy egter buite gemeenskap van goedere getroud is, beteken dit dat jou huweliksmaat net dit wat jy in jou testament aan hom of haar bemaak, sal erf. Jy kan dit ook oorweeg om geld of besittings aan ’n liefdadigheids- of nieregeringsorganisasie na te laat. Hier is ’n paar voorbeelde van hoe jy selfs ná jou afsterwe ’n verskil kan maak:
As enige van hierdie inisiatiewe jou na aan die hart lê, kan jy dit gerus oorweeg om Bybel-Media in jou testament in te sluit. Sodoende sal jy verseker dat jou nalatenskap ’n positiewe verskil in baie mense se lewe maak. Lees meer hieroor op Bybel-Media se blad oor erflatings.
Dit is belangrik om jou nalatenskap te bemaak selfs al het jy nie noodwendig voorkeure daaromtrent nie. Dit sal help dat jou boedel doeltreffend en sonder onnodige spanning afgehandel kan word.
Moenie oorhaastige besluite neem wanneer jy jou testament opstel nie. ’n Sorgvuldig uiteengesette testament sal jou erfgename en geliefdes enige onaangenaamheid of onsekerheid rakend die boedel spaar tydens ’n tyd van rou.
Deeglike beplanning is nodig om te verseker dat al die onkoste wat met die bedoel gepaardgaan, gedek word. Dit sluit onder meer die bereddering van die boedel, die betaling van eksekuteursfooie, boedelbelasting, uitstaande inkomstebelasting en kapitaalwinsbelasting en meestersfooie in.
Volgens die Fidusiêre Instituut van Suid-Afrika het meer as 30% van alle boedels onvoldoende kontant om die koste van die boedelbereddering te dek. Hierdie onkoste moet deur die erflating of deur die erfgename self gedek word. Dit is dus belangrik om hiervoor voorsiening te maak.
Eksekuteurs vir Boedels en Testamente definieer ’n lewende testament as ’n “regsdokument wat jou mediese behandelingwense uiteensit as jy onbekwaam raak”. Hierdie dokument, wat ook ’n gevorderde gesondheidsorgvoorskrif genoem word, sluit gewoonlik jou wense in met betrekking tot mediese keuses soos lewensonderhoudende behandeling.
Hier kan jy ook stipuleer of jy begrawe of veras moet word, asook waar jy graag begrawe wil word of waar jou as gestrooi moet word. Indien jy as ’n orgaanskenker geregistreer is, kan jy aandui dat jou organe geskenk mag word.
Bybel-Media se Lewenslêer bevat ’n omvattende gids oor hoe om jou eie lewende testament op te stel en ander belangrike dokumente op datum te kry. Vind meer uit oor dié nuttige hulpbron deur hier te klik.
Dit is ’n baie persoonlike en soms emosionele ervaring om jou boedelbeplanning te doen. Die proses kan oorweldigend wees, maar met die regte hulp en leiding kan dit doeltreffend afgehandel word.
’n Testament en dokumente wat in orde is, sal jou gemoedsrus gee omdat dit die lewe vir jou geliefdes wat agterbly soveel makliker gaan maak.