Wanneer moet ek my testament opstel?

Dié vraag kom nie sommer oor ’n koppie koffie of rondom die braaivleisvuur op nie. 

 

’n Mens word wel af en toe daaraan herinner wanneer ’n verlangse familielid sterf of ’n kollega kla oor die boedelbakleiery wat hulle tans bemiddel. 

 

Dalk het jy reeds jare gelede ’n testament opgestel wat iewers in jou tuiskantoor gebêre is, of in ’n laai saam met ou spaarsleutels en gordynhakies lê en stof vergader. Dalk het jy onlangs vir die eerste keer ’n motor of eiendom gekoop en nog nooit voorheen gedink dis nodig vir ’n testament nie.

 

Nasionale Testamente-week, wat jaarliks in September deur die Regsvereniging van Suid-Afrika aangebied word, herinner ’n mens dat dit wys is om eerder vroeër as nooit jou testament op te stel.

Op watter ouderdom moet ek ’n testament opstel?

’n Testament hoef nie op ’n sekere ouderdom opgestel te word nie, maar jy kan dit al vanaf die ouderdom van 16 doen. In uitsonderlike gevalle waar ’n mens op ’n jong ouderdom ’n eiendom of besigheid erf, is dit belangrik om vroeg reeds jou bates te bemaak. Die meeste mense het egter eers later in hulle lewe werklik ’n rede om ’n testament op te stel.

 

Jou testament moet jou boedel volledig beplan. Jy moet besluit aan wie jy jou bates (eiendom, ’n onderneming, erfstukke, items met sentimentele waarde en geld) gaan bemaak. Jy moet ook voorsiening maak vir enige skuld of uitstaande belasting wat vereffen moet word as jy onverwags sou sterf. 

 

Wanneer iemand sonder ’n testament sterf, het daardie persoon geen sê oor wat met hulle nalatenskap gebeur nie. In sulke gevalle stel die hooggeregshof ’n eksekuteur aan om die persoon se boedelbereddering volgens die Wet op Intestate Erfopvolging te bestuur.

Wanneer moet ek my testament opdateer?

Dit is belangrik om jou testament te hersien wanneer enige groot lewensveranderings plaasgevind het. Voorbeelde hiervan is wanneer jy met ’n nuwe werk begin, verhuis, trou, skei, kinders kry of ’n geliefde aan die dood afstaan. 

 

Mondelinge ooreenkomste of veranderings aan bemakings moet ook skriftelik in jou testament ingesluit word. ’n Kodisil of ’n testamentêre geskrif wat deur dieselfde getuie as die testament onderteken is, kan by jou testament gevoeg word om bykomende wense uiteen te sit.

Kry gemoedsrus

’n Duidelik uiteengesette testament sal nie net vir jou gemoedsrus gee nie, maar ook vir jou erfgename. Gebruik dus vanjaar se Testamente-week om jou papierwerk in orde te kry sodat jou geliefdes nie onnodige struikelblokke tydens die rouproses moet oorkom nie.

Lees gerus Bybel-Media se artikel oor hoe om jou testament op te stel. Dit beantwoord onder meer die volgende vrae:

 

  • Wat moet in my testament wees?
  • Wat is ’n eksekuteur en hoe kies ek een?
  • Hoe tref ek voorsorg vir minderjarige kinders en afhanklikes?
  • Watter dinge moet ek in my testament bemaak?
  • Hoe besluit ek aan wie ek my nalatenskap bemaak?
  • Wat is ’n lewende testament?