Jeugfokus
Jeugfokus is Bybel-Media se druknaam vir jeug- en kategeseprodukte. Hierdie druknaam het ontwikkel uit die samewerking met die destydse Algemene Jeugkommissie van die NG Kerk toe ’n nuwe pos as Hoof: Jeugkursusse by Bybelkor vir ds Willie Botha van Outjo, Namibië, geskep is. In Julie 1976 het ds Botha by Bybelkor begin werk. Sy eerste kursusreeks, Bekwaam om te leer, is baie jare lank met groot vrug in die NG Kerk gebruik.
Oor die jare heen het Jeugfokus ’n wye reeks produkte ontwikkel om gemeentes in hulle bediening aan kinders en jongmense te ondersteun, die Goeie Nuus aan die jeug te verkondig en vir hulle ’n verstaan van die kerk te bied.
Jeugfokus werk ten nouste saam met die kategeseprojekspanne van die Algemene Sinode van die NG Kerk en die VGKSA. Hierdie spanne doen navorsing, gee voorligting en ontwikkel materiaal en hulpmiddels binne die raamwerk van die gereformeerde teologie en belydenisskrifte.
In 2021 het Bybel-Media vir die eerste keer Jeugfokus-kategesemateriaal as ’n volledig aanlyn platform vir geloofsvorming op die Missio-webtuiste bekendgestel.
Mema media
In 1947 stig Rudolf Raath die Christelike Afrikaanse Rolprent en Fotografiese Organisasie (Carfo) om rolprente te gebruik om die evangelie uit te dra. In
Julie 1959 kom MEMA, onder leiding van Attie Labuschagne en ander sendelinge, as ’n kerklike aksie in Malawi tot stand. Hulle doel was om die radio vir evangelisasie te gebruik.
In 1970 word Carfo aan die Algemene Sinode van die NG Kerk oorgedra en in 1979 word dit die filmafdeling van MEMA.
Mema is ’n Chewa-woord wat “uitnooi” beteken.
Deur die jare heen het MEMA verskillende elektroniese hulpmiddels gebruik om die evangelie te verkondig, soos ’n meganiese vingergrammofoon, skyfieprogramme, klankkassette, CD’s, DVD’s en videosnitte. Etlike rolprente is in die 1980’s vervaardig en versprei, ook in isiXhosa, isiZulu, Sesotho en Setswana.
In 1992 het Mema ’n onderafdeling van Bybel-Media geword en staan as Mema-Media bekend. Die fokus val nou op die ontwikkeling van elektroniese produkte om mense in hulle geloof op te bou en bedienings uit te bou.
Sedert sy ontstaan het Mema-Media ’n wye verskeidenheid radio- en TV- programme vir kerke en diensgroepe vervaardig, onder meer dramas, musiekprogramme, joernaalprogramme, musieksnitte, opleidings- en toerustingsprogramme.
Vandag fokus Mema-Media al meer op videokommunikasie en digitale platforms as deel van Bybel-Media se groter digitale strategie.
Bybelkor
Wat ons vandag as Bybel-Media en Bybelkor ken, is gebore uit die visie wat dr Johan van der Merwe en ds Jan Lange tydens die Kaapse Sinode van 1969 gedeel het. Hulle het gedroom van die instelling van Bybelkorrespondensiekursusse in die NG Kerk.
In 1971 het dr Frits Gaum die eerste direkteur van Bybelkor geword. Die eerste kursus, Só glo ek (wat oor die Twaalf Artikels gegaan het), het in die volgende jaar verskyn.
’n Latere groot sukses was God en die tiener, wat spesiaal vir jongmense ontwikkel is. Dit het in 1974 tydens die Jeug-tot-Jeug-Aksie-byeenkomste verskyn en meer as 50 000 boeke is versprei.
Toe Bybelkor in 1983 die miljoenkerf met die verspreiding van kursusboeke bereik, het die destydse seremoniële staatspresident, mnr Marais Viljoen,
’n kunswerk in die Bybelkor-gebou onthul. Hierdie kunswerk is spesiaal geskep deur die kunstenaar Ilana Slomowitz.
In 1980 is Bybelkor, onder die vleuels van die Algemene Sinode se Kommissie vir Kerklike Tydskrifte, in ’n maatskappy sonder winsoogmerk omskep. Die ideaal om al die mediabedrywighede van die NG Kerk onder een dak tuis te bring, is in groot mate in 2002 vervul toe die Tydskriftemaatskappy (die uitgewer van Kerkbode, LiG en die Jaarboek van die NG Kerke) onder Bybel-Media se vleuels op Wellington tuisgebring is.
Verskeie uitvoerende hoofde was ná Frits Gaum aan die stuur van Bybel-Media/Bybelkor: Hans Linde (vanaf 1986), Pieter Fourie (vanaf 2006), Leon Venter (vanaf 2017) en sedert 2020 Nico Simpson.
’n Nuwe digitale era met ongekende moontlikhede het nou vir Bybel-Media en Bybelkor aangebreek. Ons doel sal egter altyd dieselfde bly: om ’n reisgenoot te wees in diens van die blye evangelie van Jesus Christus en om mense te inspireer om Jesus te volg en te groei as dissipels op die Jesus-weg.
Goeie nuus media
Good News Media (GNM) het begin as ’n lid van die Global Recordings Network, ’n internasionale en interkerklike gemeenskap wat hulle bedienings wêreldwyd koördineer en produkte in duisende tale vrystel.
Joy Ridderhof stig in 1937 Gospel Recordings Network in Los Angeles, terwyl sy baie siek was en op haar siekbed gelê het. Sy het begin droom oor ’n moontlikheid om opgeneemde evangelieboodskappe aan haar geliefde bekeerlinge in Honduras te stuur. Óók met die droom dat dit in hulle moedertaal, Spaans, sal wees. Die eerste Spaanse evangelieboodskap is op die laaste dag van 1938 voltooi. Verskillende tegnologie is ontwerp en ontwikkel, sodat mense in afgeleë gebiede ook na die evangelie kon luister, veral in gebiede sonder elektrisiteit of die konstante vervanging van batterye.
In later jare het Good News Media ’n afdeling van Bybel-Media geword. Vandag is dit ’n evangeliese bediening wat Christelike werkers, evangeliese kerke en sendelinge help om gemeenskappe wat nie kan lees nie te bedien met die evangelie van Jesus Christus deur oudiovisuele materiaal.
Die fokus van GNM is spesifiek gerig op die onbereiktes wat nie kan lees nie. Die doel is om die evangelie van Jesus Christus in hul moedertaal met hulle te deel. Tans beweeg GNM in ’n rigting wat meer fokus op die ontwikkeling van digitale hulpbronne vir kinders.
Nehemia bybelinstituut
Die Nehemia Bybelinstituut (NBI) is in 1988 deur Bybel-Media gestig. NBI verleen teologiese opleiding op voetsoolvlak aan kerkleiers, meestal van Afrika-Onafhanklike kerke, wat nooit die geleentheid gehad het om formele teologiese opleiding te ontvang nie. Die NBI-kursus bied ’n gedugte teologiese basis en fokus op die ontwikkeling van praktiese vaardighede vir gemeenteleiers in gemeentes regoor Suider-Afrika. Die teologiese onderrig binne ’n Afrika-konteks is van groot belang.
NBI bring ’n betekenisvolle verskil aan Afrika-kerkleiers op die mees basiese vlak van onderrig oor die totale spektrum van onafhanklike kerke. Die kursusse is by die amptelike onderwysowerhede in Suid-Afrika geakkrediteer.
Oor die jare het NBI vennootskappe opgebou om dié teologiese opleiding in die meeste lande in Suider-Afrika te verskaf. Die NBI-kursusmateriaal is in verskeie tale vertaal wat regoor Suid-Afrika gebruik word. Van die kursusmateriaal word ook in Indië en Pakistan gebruik.
NBI, as deel van die Bybel-Mediagroep poog om kerke te bemagtig met geestelike leiers wat bekwaam is en wat die koms van God se Koninkryk in hul gemeenskappe en aan die wêreld verkondig.
LIG tydskrif
Attie Burger, predikant van die destydse NG Kerk van Transvaal se gemeente op Paulpietersburg, het in 1937 in ’n beskrywingspunt aan die Transvaalse Sinode gevra dat ’n algemene maandblad vir die kerk in die (destydse) Transvaal in die lewe geroep word. Dié nuwe tydskrif moes die werk en lewe van die kerk onder die aandag van al die lidmate en huisgesinne bring en die amptelike kerkblad, Die Kerkbode, aanvul. Dit moes ’n goed geïllustreerde, populêre maandblad wees wat deur bemiddeling van die betrokke kerkrade in elke huis ingedra word.
Op 1 Desember 1937 het die eerste uitgawe van Die Voorligter verskyn. PJ Viljoen, predikant van Heidelberg, Transvaal, was nege jaar lank op ’n deeltydse grondslag die redakteur van Die Voorligter. Attie Burger het hom in 1948 opgevolg en vanaf 1957 die redakteurspos voltyds beklee. In 1947 het Sporie van Rensburg die “tegniese redakteur” geword. Dié legendariese latere volksraadslid en senator het dekades lank by Die Voorligter betrokke gebly. In 1967 het Willie Maree die voltydse assistant-redakteur geword, en vanaf 1970 tot in 1989 was hy die redakteur van Die Voorligter, die eerste nie-predikant wat hierdie pos beklee het.
Burger se plan vir ’n maandblad het jare lank goed gewerk, veral toe diakens nog maandeliks bydraes in hulle wyke opgeneem en Die Voorligter van huis tot huis afgelewer het. In Maree se tyd het Die Voorligter se maandelikse drukoplaag tot 188 000 gestyg. Maree is in 1989 deur FM (Frits) Gaum opgevolg, wat in daardie tyd ook redakteur van Die Kerkbode was. Die Voorligter het algaande die kleur van ’n algemene Christelike tydskrif verkry en later met ’n meer “eietydse” naam, LiG, begin om in die ope mark met ander tydskrifte mee te ding. Hierdie tendens is voortgesit toe Johann Symington in 2004 vir Gaum opgevolg het. Adri-Louise
van Reenen (Van Reenen-Fourie), toe reeds jare lank die blad se adjunk-redakteur, het in 2005 die redakteur geword. Ná haar ontydige dood in 2014 het Francine van Niekerk (nou Prins) die redakteur geword.
LiG se fokus val sterk op “mens”-verhale, asook op die lewe van glanspersoonlikhede. In rubrieke, met die klem op die gesin, word goeie raad vir
’n gesonde, Christelike leefstyl gegee.
Kerkbode
Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk, is in 1849 deur Abraham Faure
as De Gereformeerde Kerkbode gestig. Later is dié blad se naam na De Kerkbode verander, en nog later na Die Kerkbode. Sedert 2003 staan die blad net as Kerkbode bekend, met die motto: “Vandag se kerkkoerant vir vandag se kerkmense”.
Kerkbode is die oudste Afrikaanse blad in Suid-Afrika wat vandag nog bestaan. Sy geskiedenis kan in ses fases ingedeel word. Die eerste fase, met Abraham Faure as redakteur, het sy aanloop gehad in die stryd teen die liberalisme van die 19de eeu en verteenwoordig ’n behoudend-evangeliese aansluiting by die Skrif. Die tweede fase, met PGJ Meiring as redakteur, was ’n tyd van intense debatvoering oor Skrifgesag tydens die saak teen Johannes du Plessis. Die derde fase het saamgeloop met die opkoms van Afrikanernasionalisme en, in die tyd van MJ van der Westhuizen en AP Treurnicht, pogings om apartheid Skriftuurlik te begrond. Die vierde fase hang saam met die NG Kerk se getuienis oor Skrif en Skrifgesag en oor kerk en samelewing (albei in 1986), die verwerping van apartheid, die soeke na eenheid in die NG Kerkfamilie en die oorgang na ’n nuwe staatsbestel. In die vyfde fase openbaar die kerk en sy blad ’n meer akkommoderende, verdraagsame aanslag, en groter aarseling om oor alles en nog wat sterk en “finale” uitsprake te maak.
Die sesde fase hang veral saam met ontluikende tegnologie en die drastiese skuiwe in die manier waarop nuus gelees en versprei en in die eerste plek finansieel volhoubaar vervaardig word. Dit gaan hier steeds oor kerknuus en die ontleding van strominge binne die NG Kerk, maar Kerkbode sluit nou volledig aan by die nuusmedia se groter stryd om aandag en relevansie te midde van die era van die sogenaamde “digitale ontwrigting”. Die koerant behou egter sy sterk stem en visie om spieël én venster vir die NG Kerk te wees.