Lize King, ’n ondersteuner van Bybel-Media, het vroeër in die grendeltydperk die Du Toitskloof-wynplaas en -kwarantynfasiliteit besoek om toiletware aan hulle te skenk. Sy het ’n behoefte by hulle geïdentifiseer en Bybel-Media gevra om te help.
Met die koms van die inperkingsmaatreëls en die destydse toename in COVID-19-gevalle was daar ’n groot behoefte aan huisvesting vir pasiënte wat nie na hulle gemeenskappe kon terugkeer om te selfisoleer nie.
Die Du Toitskloof-wynplaas, net duskant Rawsonville, het hierdie behoefte raakgesien en hulle bestaande lodge tydelik in ’n kwarantynfasiliteit vir pasiënte omskep sodat hulle hulle so gemaklik moontlik kon isoleer. Die pasiënte is meestal vroue, ma’s en kinders. Hulle kom direk van die mediese fasiliteite na die lodge as hulle positief vir COVID-19 getoets het. Hierdie mense is weg uit hulle bekende omgewings, gemeenskappe en gesinne.
Lize vertel dat die pasiënte baie bang en onseker is wanneer hulle die nuus ontvang dat hulle positief getoets het. Die span wat by die fasiliteit werk, bestaan uit 15 ongelooflike mense wat daagliks kosmaak, skoonmaak, donasies uitdeel en mediese en emosionele ondersteuning bied.
Lize het gewonder wat sy vir die geïsoleerde pasiënte kan doen buiten die skenking van toiletware. Sy het besef dat hierdie mense dringend bemoediging nodig het. Sy het Bybel-Media geskakel om te hoor of ons kan help met opbouende leesstof en ons was gretig om hierdie fasiliteit by te staan. Die fasiliteit het ’n boks vol geestelike leesstof ontvang wat daarop gemik is om pasiënte geestelik te bemoedig, te ondersteun en hoop te gee in ’n tyd waarin onsekerheid groot is.