Kerkbode

Kerkbode
Kerkbode vertel gemeentes se stories en is ’n betroubare rolspeler in die NG Kerk se nuus- en vakature-ekosisteem. Die publikasie het multimedia-aanslag en bou voort op ’n stewige aanlyn gehoor deur middel van video en podsendings. Die redaksie, tesame met ’n netwerk van medewerkers en rubriekskrywers, streef daarna om mense se menings te verstaan en fokus op positiewe gesprekke in die kerk en ekumeniese wêreld. Kerkbode dateer uit 1849.

Geskiedenis en ontwikkeling

Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk, is deur dr. Abraham Faure as De Gereformeerde Kerkbode gestig in 1849 en is die oudste Afrikaanse publikasie van sy soort in Suid-Afrika. 

Die geskiedenis van die koerant kan in ses fases verdeel word. Die eerste fase, met Abraham Faure as redakteur, het gefokus op die stryd teen die liberalisme van die 19de eeu. Die tweede fase, onder leiding van PGJ Meiring, het intense debatte oor Skrifgesag tydens die saak teen Johannes du Plessis ingesluit. Die derde fase het saamgeval met die opkoms van Afrikaner-nasionalisme, met redakteurs soos MJ van der Westhuizen en AP Treurnicht wat apartheid Skriftuurlik probeer begrond het.

Aanpassing en modernisering 

Die vierde fase is gekenmerk deur die NG Kerk se getuienis oor Skrifgesag en die verwerping van apartheid. Die vyfde fase het ’n meer verdraagsame aanslag getoon, met groter aarseling om sterk uitsprake oor omstrede kwessies te maak. Die sesde fase, wat die huidige era insluit, fokus op die aanpassing by nuwe tegnologie en die veranderinge in hoe nuus gelees en versprei word, met Kerkbode wat steeds sy rol as spieël en venster vir die NG Kerk vervul. Wat inhoudstrategie betref, is die aanslag een van “meer lig as hitte”.

Digitale ontwikkeling 

Sedert 2019 het Kerkbode die joernalistieke beginsel van “digitaal eerste” geïmplementeer, met sukses in terme van aanlyn gehoorgroei by www.kerkbode.co.za en op Kerkbode se slimfoon-toepassing (vir Android en Apple).