LiG

LiG
LiG se gedrukte en digitale tydskrif bereik al hoe meer mense. Dit deel inspirerende stories in 'n kwartaalblad en op sy webwerf, wat miljoene mense se geloofslewe versterk. Die inhoud word geskep vir 'n wye verskeidenheid van platforms - aanlyn, oudiovisueel en gedruk. Sodat soveel as moontlik gebruikers hoop deur ons inhoud kan vind.

Agtergrond en ontwikkeling

LiG-tydskrif het sy oorsprong in 1937 toe Attie Burger, ’n predikant van die destydse NG Kerk van Transvaal, in ’n beskrywingspunt aan die Transvaalse Sinode voorgestel het dat ’n algemene maandblad vir die kerk in Transvaal gevestig word. Die doel van hierdie tydskrif, wat bekend sou staan as Die Voorligter, was om die werk en lewe van die kerk onder die aandag van alle lidmate en huisgesinne te bring en die amptelike kerkblad, Die Kerkbode, aan te vul.

Publikasie en redaksie 

Die eerste uitgawe van Die Voorligter het op 1 Desember 1937 verskyn, met PJ Viljoen, predikant van Heidelberg, Transvaal, as redakteur. Hy het hierdie rol vir nege jaar op ’n deeltydse basis vervul. Attie Burger het hom in 1948 opgevolg en die pos voltyds vanaf 1957 beklee. In 1947 het Sporie van Rensburg die tegniese redakteur geword, en in 1967 het Willie Maree as voltydse assistent-redakteur aangesluit. Maree het die redakteurpos vanaf 1970 tot 1989 beklee en was die eerste nie-predikant wat hierdie pos beklee het.

Gedurende Maree se tyd het Die Voorligter se maandelikse drukoplaag tot 188 000 gestyg. Frits Gaum het Maree in 1989 opgevolg, en gedurende hierdie tyd het Die Voorligter ’n meer algemene Christelike tydskrif geword. Die naam van die tydskrif is later verander na LiG om beter in die ope mark mee te ding.

Modernisering en fokus 

Johann Symington het in 2004 vir Gaum opgevolg, waarna Adri-Louise van Reenen in 2005 redakteur geword het. Ná haar afsterwe in 2014 het Francine van Niekerk (nou Prins) die redakteur geword. LiG het ’n sterk fokus op menslike verhale, glanspersoonlikhede, en gesinswaardes, met die doel om goeie raad vir ’n gesonde, Christelike leefstyl te bied.

Herposisionering en digitale fokus 

In 2020 is LiG herposisioneer van ’n maandblad na ’n kwartaalblad om beter aan te pas by die veranderende mark. Sedert 2021 het die tydskrif ’n sterk digitale fokus op die bou van ’n aanlyn gemeenskap rondom videoverrykte lesersgetuienisse.